Ek probeer Christo Coetzee nie namaak nie. Seblief. Niemand kan nie. Die jare by die Coetzee-galery het 'n baie sterk im...
Posted by Chayan Singh on 07 April 2021 6:18 PM CAT
Ek probeer Christo Coetzee nie namaak nie. Seblief. Niemand kan nie. Die jare by die Coetzee-galery het 'n baie sterk impak op my gemaak, dit was my beste leers...kool op vele wye vlakke, en die visuele is een fragment daarvan. Geen mens kan ooit soos hy dink of skilder nie en sy enorme output is tekenend van 'n tydvak inderdaad meer dramaties anders en straks veel ryker as myne. Of joune. Hy was 'n uiters unieke diepdenker en niemand kan dit ewenaar nie. As my skilderye soms visueel uitspeel in die trant van syne, is dit op 'n heel plesierig manier, en juis omdat dit so anders is as my eie doen en dink. As jy vir bykans sewe jaar in 'n trauma-saal sou werk, sou dit jou ook aanraak waar jyself nie kan bykom nie. Ek sal altyd baie verlief op hom en sy ewig teenstrydende filosofie bly. Daai drama rondom Balans. Of nie. Hierdie portret van Coetzee is een van vele wat aan Christo gewoon agting gee, en dank vir die dae wat ek onder die vlerk van hom en Herman Binge tot my eie verhaal kon begin kom. As 'n storieverteller anders as skilder. Dalk net gewoon as 'n meer volwasse mens. En dis klaar genoeg. Ja, ek het hom ontmoet en ja ons het baie van mekaar gehou. Lank gelede.