PAARL EN WELLINGTON ONTVANG GOEDKEURINGSTEMPEL
Posted by Sunè Samuels on 26 August 2020 10:10 AM CAT
Die Wêreld Reis- en Toerismeraad (WTTC) het die ‘Safe Travels’ goedkeuringstempel aan Paarl en Wellington toegeken. Dit beteken dat beide streke die streng riglyne en protokol toepas wat voorgeskryf word deur internasionale standaarde en dat reisigers met volle vertroue weer die talle toerisme-attraksies kan besoek.
Na aanleiding van die uitbreek van die COVID-19-pandemie wat ‘n kreupelende effek op die internasionale reisbedryf gehad het, het die raad en sy lede in samewerking met regerings, gesondheidspesialiste en ander bedryfsvennote spesifieke herstelprotokolle ontwikkel. Die toepassing van hierdie protokolle sal reisigers meer gemoedsrus gee om te reis, alhoewel veiligheid nie 100% gewaarborg kan word nie. Verder stel die gesamentlike implimentering van die protokolle die privaatsektor in staat om die veiligheid van beide die werksmag en reisigers te verseker te midde van ‘n verslapping in die reisbeperkings.
Volgens Annelize Stroebel, die hoof uitvoerende beampte van Paarl en Wellington Wyn en Toerisme (Drakenstein Plaaslike Toerismevereniging), is die ‘Safe Travels’ goedkeuringstempel van kardinale belang vir die herstel van die bedryf. “Suid-Afrika het gegaan na Vlak 2 van inperking wat interprovinsiale reis toelaat. Hierdie internasionaal-erkende goedkeuringstempel om veilig te reis, sal die toeroperateurs in staat stel om Paarl en Wellington weer met vertroue as reisbestemmings te bemark. Besoekers kan nou weer ons uitstekende aanbiedings geniet wat ondermeer fynproewersetes met van ons vallei se beste wyne insluit. ‘n Besoek aan een van die talle wynplase vir ‘n wynproe en om tuiskelders aan te vul, kan ook ‘n heerlike daguitstappie wees.”
As lid van die WTTC, mag Paarl en Wellington hierdie stempel wêreldwyd gebruik om die verskeidenheid toerisme-aantreklikhede in die area te bemark, terwyl die land stadig uit inperking beweeg. Die simbool bied ook die nodige gerusstelling om Suid-Afrika weer ‘n voorkeurbestemming te maak. “Die ‘Safe Travel’ goedkeuringstempel stuur ‘n duidelike boodskap dat Paarl en Wellington veilige bestemmings is en dat die aanbevelings wat uitgereik is deur die nasionale gesondheidsministerie en die Toerismeraad van Suid-Afrika streng nagevolg is om besoekers te veiligheid te verseker,” verduidelik Stroebel.
Raadslid Conrad Poole, uitvoerende burgemeester van Drakenstein munisipaliteit het die inisiatief verwelkom. “Toerisme speel ‘n uiters belangrike rol in Drakenstein se ekonomie en ons hoop om spoedig plaaslike en internasionale toeriste in Drakenstein terug te verwelkom,” sê hy.
“Toerisme is sonder twyfel almal se besigheid en maak letter en figuurlik deure oop vir plaaslike inwoners. Net soos die lenteprag nuwe lewe simboliseer, ontsluit die terugkeer van toerisme in Drakenstein talle geleenthede vir die plaaslike eknonomie, wat sal verseker dat hierdie ‘n voorkeurbestemming bly. Ons is beslis oop vir besigheid en nooi besoekers om ons pragtige, skoon oop ruimtes veilig te kom geniet. Kom ons verseker dat Drakenstein ‘n gunsteling bestemming bly vir plaaslike en internasionale reisigers.”
Lede van die toerismevereniging het sertifikate van nakoming ontvang nadat hulle ‘n onderneming rakende gesondheid en veiligheid onderteken het. Paarl en Wellington logo’s op die sertifikate word erken as ‘n stempel van goedkeuring en kan op webtuistes en ander digitale platforms gebruik word.
Vir meer inligting volg @VisitPaarl en @VisitWellington ZA op sosiale media.