Du Toitskloof Cellar

  • Old N1 Rd
  • Rawsonville, Western Cape
  • 6845
  • SOUTH AFRICA
  • +023 349 1601
PUBLIC PROFILE

Newsletter

Posted by Lize van Nieuwenhuizen on 27 October 2016 3:35 AM CAT
Lize  van Nieuwenhuizen photo

   
Soos die gesegde lui, lente is in die lug en ons pragtige Breedekloof-vallei is verfraai met 'n groen kleed van jong, vars wingerdblare. Die gevoel is een van varsheid en lewe. Ons druiweboere is veral ingenome met die gesonde toestand van die wingerde, omdat dit 'n aanduiding gee van die baie belangrike en deeglike winterslaap wat die plante geniet het.
Na 'n warm en baie droë somer, was die winter koud met nagtemperature wat tot net bokant nul gedaal het. Hierdie koue lug was broodnodig aangesien die wingerde moet afskakel en rus vir 'n diep winterslaap na die strawwe werk van die groeiseisoen.
Toe die wingerde weer ontwaak het tydens uitbot in Augustus, het die groeiseisoen begin met eweredige plantegroei wat altyd 'n goeie teken is. Ons kan wel doen met 'n bietjie meer water in die damme en nog 'n behoorlike reenbui of drie, maar op hierdie vroeë stadium van die seisoen lyk alles belowend. Dit is 'n goeie tyd by Du Toitskloof Wyne.

  

  
Lente in die Breedekloof-vallei

  
Lente-wingerde wat bot

   
Quest is die Beste
In 2011 het Du Toitskloof Wyne met 'n nuwe reis begin. Deur die beste druiwe vanaf uitgesoekte wingerde regoor die Kaap te verkry, het ons wynmakers Shawn Thomson en Willie Stofberg hul tog begin om te wys wat ons wynkelder werklik kan vermag.
Druiwe is in klein lotte gepars. Geen onkoste of moeite is ontsien om twee boetiekwyne met die hand te maak, en so is die Quest-reeks gebore.
Die twee rooiwyne in die reeks is genoem Heroes Journey 1, 'n Bordeaux-gedrewe versnit, terwyl Heroes Journey 2 gemaak word van die sagter, meer speseryagtige Rhône-kultivars. Die eerste Quest-wyne uit die 2011-oesjaar het alle verwagtinge oortref ten opsigte van kwaliteit.
Onlangs het Quest Heroes Journey 1 en 2 die kollig getref met uitstaande vertonings by Suid-Afrika se twee voorste wynskoue, naamlik die Michelangelo-wyntoekennings en die roemryke Veritas.
Die Quest Heroes Journey 1 2011 het 'n dubbelgoue medalje by vanjaar se Michelangelo Internasionale Wyn- en Spiritustoekennings verower, terwyl die Heroes Journey 2 2012 'n goue medalje by die Veritas-kompetisie gewen het. Om hierdie goue prestasie te kroon, het die Du Toitskloof Pinotage 2015 ook 'n dubbelgoud by die Michelangelo-toekennings ingepalm.
Hierdie toekennings is uitstekende prestasies gegewe dat beide kompetisies uiters streng beoordeel word deur beoordelaarspanele bestaande uit internasionale en plaaslike wynkenners. Die toekennings is gepaste erkenning vir die gehalte van die wyne en die toewyding en passie van die kelderspanne. Wat egter net so belangrik is, is die feit dat daar niks soos 'n paar goue medaljes is om jou te laat uitstaan bo die menigte, en die wynliefhebber te herinner aan jou aansien in die kwaliteit-spel nie.


  
  
'n Vars voorkoms vir Selected Vineyard Series-wyne
Vroeër vanjaar het ons 'n nuwe, gefokusde wynreeks onder treffende herontwerpte verpakking bekendgestel. Dit word die Du Toitskloof Selected Vineyard Series genoem, en het 'n geesdriftige ontvangs gekry onder huidige en nuwe kliënte.
Die Selected Vineyard Series bestaan uit 'n reeks wyne wat gemaak is van druiwe uit geselekteerde wingerde in die Rawsonville-streek wat 'n unieke vingerafdruk van terroir en 'n ware smaak van hul oorsprong weergee. Die reeks bestaan uit Cabernet Sauvignon, Pinotage, Shiraz, Nebbiolo, Dimension rooi versnit en 'n Pinotage Rosé.
Volgens Marius Louw, uitvoerende hoof van Du Toitskloof Wyne, sal hierdie reeks aan kliënte toegang bied tot 'n reeks kultivar-spesifieke wyne van onderskeidende gehalte wat die seël van wingerd- en streeksegtheid dra.
Vir die Du Toitskloof Selected Vineyard Series, word spesiale gedeeltes wingerd wat individuele karaktereienskappe van uitnemendheid en 'n liggingspesifieke gehalte openbaar, uitgekies waarvan 'n reeks terroir-gedrewe wyne met unieke kultivaruitdrukking gemaak word.
“Tydens die groeiseisoen word hierdie wingerde bestuur onder die leiding van wingerdkundiges wat noukeurige snoei-, suier-, en loofbestuurpraktyke toepas,” sê Louw. “Wanneer parstyd aanbreek, word die vrugte in klein, individuele lotte verwerk in 'n spesiaal-toegeruste, voorpunttegnologiese parskelder en wynmaakfasiliteit, wat verseker dat die uiteindelike wyne die natuurlike eienskappe van hul wingerdoorsprong weerspieël.”
Louw sê dat die eksklusiewe verpakking vir hierdie reeks ontwerp is om die gehalte van die gebottelde produk te komplementeer, asook om verbruikers bekend te stel aan die gefokusde benadering wat gebruik word om hierdie wyne te skep.
“Die Selected Vineyard Series wys steeds die kulturele erfenis van Du Toitskloof, en so komplementeer dit die ander bekende etikette in ons reeks,” sê hy. “Die meer opvallende logo en lettertipe, gekombineer met die skoon, moderne voorkoms en gesofistikeerde sluiting, doen die inspanning wat die druiweverbouers en wynmakers in die finale produk sit, gestand.”
Om nie eens te praat van die smaak en geur van hierdie meesleurende wyne nie!

 
Du Toitskloof kraai koning in jaarlikse wynland-kookstryd

In 'n spanningsvolle kompetisie wat die veeleisendste kooktegnieke nóg opgelewer het in die jaarlikse Muratie-Du Toitskloof Cook-off, was dit die tuisspan van Rawsonville wat met die louere weggestap het na 'n indrukwekkende vertoning van paella-maak oor die oop vuur.
Vanjaar is die Boland se toonaangewende inter-wynkelder-kookkompetisie vir die vyfde keer aangebied, hierdie keer op die uitgestrekte gronde van Du Toitskloof Wyne. Albei spanne moes 'n paella-dis oor 'n oop vuur voorberei, met die enigste voorwaarde dat hulle weergawe van dié klassieke Spaanse gereg een seekos-item en een soort vleis van 'n landlopende dier moes bevat.
Na 'n uitmergelende rondte van beoordeling deur 24 Kaapse kosfynproewers, is Du Toitskloof as die eenparige wenner aangewys.
Du Toitskloof en Muratie het albei gewys dat die wynland se paella-makers die tradisie van paella-voorberei respekteer. Die korrekte Spaanse rys is gebruik. Elke span het die waarde besef van 'n goeie, geurvolle tamatie-gebaseerde sofrito waarmee die dis gebind word. Geen onkoste is ontsien in die saffraan-departement nie. En die kernbelangrike implementasie van die moenie-roer-taktiek is vaardig en selfversekerd uitgevoer.
Uiteindelik het dit egter op tekstuur, algehele smaak en die keuse van addisionele bestanddele neergekom. Du Toitskloof het kreef en inkviskoppe by hul bolaag van garnale, hoender en chorizo gevoeg en ook hul dis in 'n kreefaftreksel laat prut. Die reuk hiervan was genoeg om die Breedekloof se hele visarendbevolking bo-oor die kookarea te laat sirkel!
Muratie het gebraaide lamsribbetjies in hul dis geïnkorporeer saam met chorizo, hoendervlerkies en garnale, wat vir 'n interessante tweestryd van verruklike paellas gesorg het.
Die wonderlike kulinêre wedywering tussen Du Toitskloof en Muratie word volgende jaar voortgesit met die geskiedenis wat twee wenne vir ellke span wys, en een gelykop-uitslag.
Volgende jaar se beslissende kragmeting sal by Muratie plaasvind.

  
2016 Cook-off-kampioene: Elrine Thomson, Muller Coetzee, Christine Coetzee en
Shawn Thomson van Du Toitskloof met Hattingh de Villiers en Kim Melck van Muratie.

  
Du Toitskloof is aangewys as eenparige wenner van vanjaar se cook-off-kragmeting
met hul skitterende paella wat oor 'n oop vuur voorberei is.

 
Wyn en woorde vat hande met Du Toitskloof-borgskap

Die US Woordfees se baie suksesvolle eerste kortverhaal-kompetisie, wat bekendgestel is by die 2016 Woordfees, sal in 2017 selfs meer trefkrag kry wanneer die skrywer van die beste kortverhaal R30 000 wen danksy 'n borgskap deur Du Toitskloof Wyne.
Marius Louw, uitvoerende hoof, het Du Toitskloof Wyne se betrokkenheid beskryf as die natuurlike uitvloeisel van die kelder se SA Wynskrywerskompetisie wat in 2013 ontstaan het. “Oor die afgelope paar jaar werk Du Toitskloof Wyne nou saam met die US Woordfees in verskeie hoedanighede.” Hy sê die idee om die US Woordfees te help om glinsterende nuwe Afrikaanse kortverhale te identifiseer, gee 'n ekstra dimensie aan die wynbedryf se betrokkenheid by literatuur en kultuur.
Die wenner van hierdie opwindende kompetisie, wat die verbeelding van die Suid-Afrikaanse literêre wêreld aangegryp het, sal in Maart by die 2017 US Woordfees bekendgemaak word.

MOENIE vergeet om 'n draai te maak by Du Toitskloof Wyne vir 'n wynproe of 'n verfrissende iets te ete by Melissa's nie. Ons sien daarna uit om jou te verwelkom.

  
 
 

View Full Post and Comments

Categories

Archives